Sunday, July 20, 2008

Drie Verse vir die Afwesigheid

I

daar brand vure op die berg vanaand
oranje tonge wat vrolik sing
met woorde wat lig bring

bome mooi soos woorde
gestring aan die geliefde se tong
staan en prewel langs die oewer
oeroue inkantasies wat die gode nie meer hoor
waar sal mens begin soek
as die woorde eers weggeraak het
miskien is dit alles misleiding
rook rook en spieëls

sterre verskiet oor die berg vanaand
wit tonge wat warm lek
aan die ver hemelte
bome mooi soos ou herinneringe
laat vaar hul drome nou verdor
op die stroom wat ewig vloei
dooi offers aan dooie gode iewers langs die see

waar sal mens begin soek
as die liefde eers weggeraak het
miskien is dit selfmisleiding
skimme rook in spieëls




II

die maan is 'n koue steen
in die palm van die nag
o hoe weergalm die stilte van sterre
polsend teen die mure van die binneoor
verlange is 'n landskap sonder grense
bestrooi met die karkasse van uitgebrande wense

en bo die kimme gly
die hart 'n koue steen

die maan is 'n vermoede
gehul agter gordyne van gas
o hoe pyn my arms met die las van jou
afwesigheid my hart is 'n koue been
bleek in die stil onverskilligheid van die nag

daar is geen kuur vir die groot alleen




III

vroeg in die oggend brand die nag se vure
uit en vreemde vorms word gewoon
skimme sleep sakke gevul met illusies terug
en terug in die wykende mis

die lig vol eiegeregtige skyn
trek sy vlerke op in 'n wye kring
verban die maan en die sterre verdwyn
sny met sy mes my oë oop
sny al die toue los in my
maar saam met bewussyn kom die pyn
jy is nie hier nie en ek weet
ook die dag bring geen verligting

(woorde mooi soos ou ou bome
iewers langs 'n stroom:
jou woorde het my verlaat)